Skip to main content

Afrikaans | Minister Barbara Creecy: 2022/2023 Begrotingspos – Nasionale Vergadering (NV)

Afrikaans | Minister Barbara Creecy: 2022/2023 Begrotingspos – Nasionale Vergadering (NV)
18 May 2022

Agbare Voorisitter van die Huis;
Ons Adjunkminister Me Makhotso Sotyu;
Agbare Voorsitter Me Faith Muthambi en Komiteelede;
Voorsitters van die Entiteite wat aan die DBVO verslag doen;
Direkteur-generaal, Me Nomfundo Tshabalala;
Hoof- Uitvoerende Beamptes van ons Openbare Entiteite;
Dames en here

Goeiemiddag

Die nag van 11 April het Mev Thembisa Nomlala, ’n Enviro Champ van die Quarry Road-wes nedersetting in die Stad eThekwini, heupdiep in vloedwater met haar kleinkind in haar arms gestaan terwyl sy gewerk het om mede-inwoners te ontruim.

Met inligting van die satellietverbinde vroeë vloedwaarskuwingstelsel kon sy en ander Enviro Champs almal behalwe een persoon red toe die Palmietrivier 450 huise in haar gemeenskap weggespoel het.

Haar traumatiese ervaring daardie verskriklike nag illustreer die mensetragedie agter die verslag van die sesde internasionale paneel oor klimaatsverandering. Hierdie dokument in drie dele bevestig dat rampe wat deur klimaatsverandering meegebring word, die grootste hedendaagse bedreiging vir mense, ekonomieë en die natuur inhou.

Die lyding van die inwoners van die Quarry Road-wes informele nedersetting illustreer die veelbesproke realiteit dat vrouens en kinders in die besonder, wat in armoedige toestande leef, mees kwesbaar is vir klimaatsverandering.

Maar Mev Nomlala en die ander Enviro Champs wat aan die “Transformative Riverine Management Programme” behoort, het ’n belangrike en kragtige boodskap vir ons: kwesbare gemeenskappe hoef nie heeltemal magteloos voor klimaatsverandering te staan nie. In plaas daarvan kan vennootskappe soos hierdie een, wat die gemeenskap van Quarry Road-wes, die Stad eThekwini, en die Universiteit van KwaZulu-Natal insluit, ’n belangrike rol speel om klimaatsveerkragtigheid binne kwesbare gemeenskappe te bou.

Die klimaatskrisis vereis dat klimaatsveerkragtigheid regoor die sisteem gebou moet word en spesiale aandag moet geskenk word aan besonders kwesbare individue, huishoudings en gemeenskappe.

Die huidige werk deur die Presidensiële Klimaatskommissie om die mede-skepping van ’n "Just Transition Framework" vir Suid-Afrika te ondersteun, sê vir ons dat almal wat geraak word deel moet wees van die ontwikkeling van oplossing; daar moet ’n gelyke verspreiding van risiko's en geleenthede wees sodat kwesbare werkers en gemeenskappe nie die las van verandering dra nie en die proses kan slegs suksesvol wees as dit ons aanhelp met ons breër ontwikkelingsoogmerke, naamlik ekonomiese insluiting, indiensneming en die bou van ’n meer gelyke samelewing.

Terwyl ons wag vir die Hooggeagte Vergadering om die Klimaatswetsontwerp te oorweeg, stel ons die binnelandse argitektuur in plek vir versagting van en aanpassing by klimaatsverandering.

In ooreenstemming met ons hersiene, ambisieuse Nasionaal Vasgestelde Bydrae (NVB) tot die vermindering van kweekhuisgasvrystellings, het ons die raamwerk vir Sektorale Vrystellingsteikens (SVT's) ontwikkel wat doelwitte vir die vermindering van emissies vir kernsektore van die ekonomie uiteensit. Die proses waarvolgens SVT's aangewys word, sal in die 2022/2023 finansiële jaar begin.

Twee jaar gelede het die Kabinet die Nasionale Klimaatsveranderings-aanpassingstrateige goedgekeur. Tot dusver het ons al 44 distriksmunisipaliteite ondersteun om klimaatsveranderingaanpassingstrategieë te ontwikkel. Huidige werk sluit ondersteuning in om die integrasie van klimaatsprioriteite in die Geïntegreerde Ontwikkelingsplanne te verseker.

’n Presidensiële Klimaatsfinansieringstaakspan, onder leiding van Mnr. Daniel Mminele, lei tans ’n tegniese span om die volle besonderhede te verstaan van ’n aanbod deur ontwikkelde lande om $8.5 miljard (R131 miljard) oor die volgende drie tot vyf jaar om die instelling van ons hersiene NVB te ondersteun en ons Just Transition te begin. 

Agbare lede,

Onlangse mediadekking het twyfel gewerp oor die Weerdiens se vermoë om ernstige weergebeurtenisse te voorspel en ons burgers teen die impak van klimaatsverandering te beskerm. Hierdie berigte is onwaar. Weerwaarskuwings is uitgereik voor die vloede van 11 tot 12 April en was volgens die intensiteit van die weer opgegradeer na ’n Vlak 5 waarskuwing op die oggend van 11 April en na ’n Vlak 8 waarskuwing of ernstige impak teen 8 pm daardie aand.

Om te verseker dat ons voorspellingsvermoë ten spyte van tekorte aan inkomste uit die jongste tegnologie bestaan, het ons ’n bedrag van R100 miljoen oor drie jaar aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens toegewys, wat met R15 miljoen in 2021-2022 begin.

Soos u weet, ervaar ons steeds hewige lugbesoedeling in die drie hoogs geïndustrialiseerde gebiede van Vaaldriehoek, die Hoëveld en die Waterberg-Bojana gebiede.

Die regulasies vir die inwerkingstelling en afdwinging van prioteitsgebeid luggehaaltebestuursplanne sal voor die einde van 2022 gepubliseer word.

Daar is tans 10 appèlle teen die verskeie besluite deur die Departement se Nasionale Luggehaltebeampte rakende versoeke vir die opskorting en uitstel van voldoening aan die Minimum Vrystellingstandaarde en die uitreiking van Voorlopige Atmosferiese Vrysstellingslisensie.

Terwyl sommige appèlle toegestaan is, is ander van die hand gewys. 

Weens die ingewikkelde en teenstrydige aard van die kwessies ter sprake in die appèlle wat aangeteken is, stel ek prosedure in plek ingevolge artikel 3A van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur om my oor die appèlle van raad te bedien.

Ek het reeds beroepe vir benoemings van ’n paneel kundiges in die Staatskoerant gepubliseer wat beide mondelinge en skriftelike getuienis oor hierdie kritieke aangeleenthede sal oorweeg. Die Opdrag is ontwikkel en is as deel van die beroep gepubliseer.

Agbare lede,

’n Jaar gelede het ek die Hoëvlak Paneelverslag vrygestel wat beleid, wetgewing en praktyke rakende die bestuur, teel van, handel dryf in en hantering van olifante, leeus, luiperds en renosters hersien het.

In Junie 2021, het die Departement ’n konsepbeleidsposisie vir openbare kommentaar vrygestel wat van die paneel se sleutelaanbevelings gedek het. Die openbare kommentaarproses het meer as 9000 opmerkings wat uiteenlopende opinies uitdruk, opgelewer.

Die Departement het dienooreenkomstig besluit om voort te gaan met die ontwikkeling van ’n Witskrif oor die Bewaring en Volhoubare Gebruik van Suid-Afrika se Biodiversiteit.

Die Witskrif sal deur die Kabinet oorweeg word tydens Junie hierdie jaar, waarna dit vir openbare kommentaar gepubliseer sal word.

Ons hoef nie te wag vir die Witskrif om nuwe benaderings en praktyke in ooreenstemming met die Hoëvlakpaneel se kommentaar te formaliseer nie. Sekere maatreëls kan nou voortgaan op ’n basis waarop onderling ooreengekom is.

Oor die kwessie van die geblikte leeubedryf, is ek van plan om ’n Paneel van Kundiges in te stel om die inwerkingstelling van ’n vrywillige uitgangstrategie te formuleer en toesig daaroor te hou vir diegene wat wil deelneem.

Ek glo dat deur belanghebbendes te betrek en saam met hulle te werk, kan ons ’n vrywillige strategie ontwikkel wat risiko's kan versag, met inbegrip van die uitwerking op die plaaslike ekonomie, werkskepping en die welstand en welsyn van die leeus self.

Hierdie paneel sal duidelik omskrewe opdragte, en streng tydsbestekke hê, sodat gevolg gegee kan word aan die HLP-aanbeveling, en die besluit wat voortspruit uit die 2018 Parlementêre Gesprek oor Leeus.

Suid-Afrika het ook ’n spesieherstelplan vir witrenosters nodig, wat die stroopkrisis in ag neem, en die potensiaal wat ons het om witrenosters in beheerde omgewings te teel vir bewaringsdoeleindes, ter ondersteuning van die bewaring van renosters in uitvoerige natuurlewestelsels.

Ek glo so ’n plan kan ontwikkel word in vennootskap met private eienaars van renosters, wat uitvoering gee aan Paneelaanbevelings in ’n vrywillige wen-wen-scenario. Ek het versoek dat SANParks die ontwikkeling van sodanige herstelplan as ’n kernelement van hulle werk in hierdie finansiële jaar lei.

Die Parlement het ’n wysiging goedgekeur aan die "National Environmental Management: Biodiversity Act", wat die ontwikkeling van wetgewing op nasionale vlak rakende die welstand van natuurlewe sal moontlik maak.

Ons is besig om ’n natuurlewewelsynforum in te stel wat biodiversiteitbewaring en die ekologies volhoubare, verantwoordelike en menslike gebruik en bestuur van natuurlewe sal bevorder.

Agbare lede,

Ek is bly om vandag aan te kondig dat ons 58 en 66 grondeise binne beskermde gebiede geskik het wat vir vinnige beslegting geïdentifiseer is tydens die Agtste Mense en Parkekonferensie wat in 2018 in Limpopo gehou is. My spesiale waardering gaan uit na die grondeisekomissie en Minister Thoko Didiza vir haar leierskap.

Die onopgeloste grondeise in die Kruger Nasionale Park (KNP) is vir my ’n groot bekommernis. Ek wil die Raad van SANParke en die bestuur van die KNP aanprys vir die nuwe energie wat getoon word in die vergadering met Tradisionele Owerhede om die ingewikkelde grondeise op ’n meer inklusiewe wyse af te handel wat die betrokke gemeenskappe meer bevoordeel.

iSimangaliso Vleilandpark en SANParke het vroeër hierdie jaar beleggerkonferensies gehou om privaatsektorbeleggings in nuwe en bestaande toerismegeleenthede te lok.

Beide beleggingskonferensies het op ’n kritieke tyd in ons land se algemene Ekonomiese Rekonstruksie en Herstelplan plaasgevind waarin toerismeherstel en -groei in die top vyf prioriteite is, saam met infrastruktuurbelegging en groen eknomie-intervensies. 

Ons sien uit na die projekte wat bekendgestel is aan beleggers wat versnelde werkskepping ondersteun in die landelike gemeenskappe wat aan ons parke grens, waar min ander geleenthede vir volhoubare lewensmiddele tans bestaan.

In ’n poging om meer werksgeleenthede vir die plaaslike gemeenskappe wat langs die beskermde gebiede bly, te skep en klein en medium ondernemings te ondersteun, sal die Departement hierdie jaar meer belê in die beskerming en bewaring van natuurlike hulpbronne. Deur ’n vennootskap met SANParke, SANBI, en iSimangaliso, sal ons 8 315 werksgeleenthede skep (deur ons Portefeulje vir die Bestuur van Natuurlike Hulpbronne) wat gemik is op die bestuur van indringerspesies, die herstel van geërodeerde droëland asook rehabilitasie van geërodeerde vleiland.

Voorts sal ons nog 2646 werksgeleenthede in die beskermde gebiede skep deur ons Omgewingsbeskerming en Infrastruktuurprogram wat infrastruktuur in beskermde gebiede en botaniese tuine sal opgradeer en refurbish?

Agbare lede,

Om ons land skoon te hou en ontslae te raak van ongewenste en onooglike afval in ons omgewing bly ’n belangrike deel van ons verbintenis daartoe om ’n gesonde omgewing te voorsien vir alles en almal om in te bly.

Ons het, oor die afgelope jaar, die Regulasies op verpligte Uitgebreide Produsenteverantworodelikheid afgevaardig met die oog op die vermindering van die las op munisipaliteite om afvaldienste regoor die land te lewer.

Die regulasies vir die behandeling van organiese afval, en die maak van kompos met organiese afval, is ook gepubliseer vir inwerkingstelling om afval uit vullingsterreine te hou en nuwe bedrywe te skep.

Om afvalbestuur in munisipaliteite te verbeter, help die Departement met die ontwikkeling van hulle Geïntegreerde Afvalbestuurplanne, en opleiding oor volhoubare afvalbestuurpraktyke.

Die departement voorsien ook tans 22 voertuie aan 19 munisipaliteite regoor die land. Met ’n totale waarde van R42 439 812.20, sluit die voertuie stortbak-laaitrokke, laaigrawe, vuilgoedperstrokke en ander trokke in wat nodig is om vullis binne hierdie gebiede te vervoer.

Deur ons provinsiale en munisipale ondersteuningsinisiatief, het die Munisipale Skoonmaak en Groenmaak-program wat in die afgelope boekjaar onderneem is, openbare opvoeding, rommelstrooi, in 36 munisipaliteite regoor die land hanteer. In totaal is meer as 3 000 werksgeleenthede geskep omdat ons omgewingsgesondheid in hierdie gemeenskappe verbeter het.

Agbare voorsitter van die huis

Vissers lewer ’n belangrike bydrae tot voedselsekerheid en plaaslike ekonomiese groei. In die afgelope jaar het ons ’n aantal uitdagings die hoof gebied wat nie net met visvangregte verband hou nie, maar ook rakende die beweerde uitwerking van seismiese toetse op die oseaan en visvanghulpbronne.

Al hierdie kwessies word by die horings gepak.

Om te verseker dat Visvangkoöperasies meer volhoubaar is, ontwikkel ons Departement ontwikkelingsprogramme in samewerking met die Departement van Kleinsakeontwikkeling en ’n aantal plaaslike munisipaliteite wat hierdie jaar op sakevernuf, finansiële bestuur en verbetering in waardeketting fokus. Ons sal verder die aankoop van visvangtoerusting vir koöperasies in nood vergemaklik.

Die uitslae van die 2021 FRAP-proses is op 28 Februarie gepubliseer. Ons hanteer nou die appèlle deur diegene wat ontevrede met die proses is.

Ons stel ’n Onafhanklike Appèlspan aan om my, as die Appèlowerheid, van raad te bedien oor die meriete van elke appèl om te verseker dat die proses regverdig is en betyds afgehandel word.

Ek spoor potensiële appellante en belangstellende en geraakte partye dus aan om hulle appèlle in te dien voor die afsnytyd van middernag, 29 Mei 2022.

Die impak van oseaangebaseerde seismiese eksplorasie op ons marienebeskermdegebiede en op die visvangbedryf is ’n groot kwessie in die openbare domein. Hierdie eksplorasies word sedert die 1950's aan ons kuslyn onderneem, en Suid-Afrika het bygedra tot die liggaam van funderende wetenskap oor die kwessie.

Om te verseker dat versagtingsmaatreëls ons ekostelsels sowel as ons visvangshulpbronne beskerm, is die Departement van plan om ’n navorsingsprogram oor seismiese opnames en die impak daarvan in ons plaaslike waters te ontwikkel.

Hierdie navorsing sal hierdie jaar begin en sal begin deur terug te kyk om vas te stel of daar enige waarneembare impak in oseaangebiede is waar seismiese opnames reeds oor die afgelope paar jaar plaasgevind het.

Agbare lede,

Die regering het die hantering van die stropery van ons land se natuurlewe en plantspesies geprioritiseer en die Departement verleen breedvoerige ondersteuning aan provinsies en sektore wat erg onder hierdie misdade deurloop.

Vroeg in Februarie het ons besin oor die renosterstropingstatistieke vir 2021 en terwyl ons die volgehoue afname in renosterstropery in die Kruger Nasionale Park erken het, het die stroperykwessie oor die land verskuif en KwaZulu-Natal het ’n sleutelteikengebied vir hierdie kriminele sindikate geword. 

As gevolg van die ontstellende stropingsyfers in daardie provinsie, is kerndepartementele hulpbronne ontplooi om Ezemvelo KZN Wildlife en die SAPD aktief te ondersteun. Dit sluit in bystand aan insameling van intelligensie en gesamentlike ondersoeke, steun aan wetstoepassingsbeamptes en bestuurders van gesamentlike operasies, met inbegrip van die senusentrum in Hluhluwe Imfolozi Park wat deel van die geïntegreerde Natuurlewesones is.

Ten opsigte van die werk wat die prioriteitskomitee kragtens Inisiatief 5 van Operasie Phakisa doen, bly ’n kernbekommernis die feit dat die hoë aanvraag en pryse wat vir perlemoen betaal word, aanhou om individue in Suid-Afrika uit te lok om deel van die onwettige handel daarin te word. ’n Soortgelyke bekommernis is die voortgesette onwettige verwydering van Weskuskreef uit die oseane. Daarom hou die Departement aan om wetstoepassingsaktiwiteite te fokus op die bevegting van hierdie onwettige aktiwiteite. 

Ten einde ons pogings om die perlemoenhulpbron te bestuur te herfokus en wat die beste manier is om die onwettige handel daarin te voorkom en te bekamp, sal die Departement, saam met ’n verskeidenheid belanghebbendes, ’n inklusiewe en holistiese strategiese reaksie en aksieplan ontwikkel vir die voorkoming en bekamping van handel in onwettig uitgehaalde perlemoen.

Agbare voorsitter van die huis,

Ek wil afsluit deur ons Adjunkminister, Me Makhotsu Sotyu, te bedank vir haar energie en ondersteuning in alle areas van ons Departement se werk; my opregte dank gaan uit na ons Direkteur-generaal, Me Nomfundu Tshabalala vir haar konsekwente en deeglike bestuur van die vele ingewikkelde en uiteenlopende take wat sy lei.

Ek druk my innige dankbaarheid uit aan die span van Bosbou, Visserye en die Omgewing asook aan die Raadvoorsitter en HUB's en bestuurders van ons entiteite vir al hul toewyding aan omgewingsaangeleenthede en volhoubare gebruik van ons land se natuurlike hulpbronne.

Ten laaste, maar nie die minste nie, bedank ek ons portefeuljekomitee onder leiding van Agbare Faith Muthambi, dat hulle ons op ons tone hou!

Baie dankie

 

About

We are professional and reliable provider since we offer customers the most powerful and beautiful themes. Besides, we always catch the latest technology and adapt to follow world’s new trends to deliver the best themes to the market.